Oudtshoorn se inwoners is in rep en roer, na hul hul nuutste munisipale rekeninge ontvang het, en het sosiale media vandeesweek omtrent gegons oor die ontevredenheid.

Die nuwe tariefverhogings is van R300 tot R1 200 op party inwoners se rekeninge.

Dit het baie warm onder die kraag, veral omdat die nuutste begroting toon dat sowat 50% van Oudtshoorn se inwoners is deernis gevalle, wat beteken dat slegs 50% van Oudtshoorn se inwoners wat erfbelasting en dienste betaal.

Die een ligpunt is dat die beplande en begrote elektrisiteitverhoging van 15,4% wat goedgekeur is, toe slegs 15,1% was.

’n Whatsapp-groep is vandeesweek gestig deur Arno Greyling. Daar was teen druktyd meer as 1 800 persone op die groep. Volgens Greyling is die doel van die groep om inwoners bymekaar te kry en om saam te staan teen die verhogings, en ook om kommunikasie te vergemaklik met die inwoners. Daar sal ook ’n moontlike protesaksie georganiseer word teen die munisipale rekeninge.

“Ons is saamgesnoer deur ons woede oor hierdie verhogings, wat absurd is en nie billik en regverdig teenoor die inwoners van die dorp wat reeds swaar kry na baie moeilike ekonomiese omstandighede,” het hy aan Die Hoorn gesê.

Daar word ook gewerk om ’n organisasie te stig wat rofweg gebaseer is op die “Ignite and Revive” model wat in Kroonstad begin is, en gelei het tot hul onlangse toekenning as die Kwêla dorp van die jaar. Die stigter Andre van Pletzen gaan ook Oudtshoorn binnekort besoek en die suksesresep deel.

Dit blyk dat die grootste ongelukkigheid gaan oor die riooltariewe en die vullisverwydering.

Vullisverwydering het met 66% gestyg terwyl daar ongelukkigheid is oor die riooltariewe wat weer terug is op die ou bedeling, waar daar per toilet per erf betaal word. Die vullisverwydering styg van R189,04 na R314,96. Riooltariewe was R247,91 vir enige hoeveelheid toilette. Die nuwe tarief is R245,32 en daarna R81,31 per ekstra toilet. Die gevolg is nou dat inwoners met 1 toilet 31,76% meer betaal as die vorige jaar.

Inwoners met 2 toilette betaal 64,56% meer terwyl huishoudings met 3 toilette nou 97,61% meer gaan betaal.

Die nuwe munisipale rekeninge het ’n ander syfer as wat die tarieflys bepaal. Inwoners is R245,32 plus R81,31 (totaal R326,66 volgens rekening) gehef vir die met 1 toilet ipv net R245,32. ’n Navraag is aan die munisipaliteit gestuur om uitklaring te gee.

Volgens Aurelia Mle, woordvoerder van die Oudtshoorn Munisipaliteit het die betrokke departement die volgende geantwoord op die navraag. “Die begroting is korrek, met die gemelde syfers soos bo, BTW ingesluit, en was dit ook gedurende IDP en Begroting Imbizos van 12 April 2023 – 26 April 2023, met die publiek bespreek, en ook met sakelui. Die publiek en die Groter Oudtshoorn Gemeenskap was ook die geleentheid gegun om voldoende kommentaar te lewer na die IDP en Begroting Imbizos soos bogenoemde vermeld.”

Die verklaring lui verder dat die riooltariewe korrek is volgens die voorskrifte en stipulasies van Seksie 74 (2) (a-i) van die Munisipale Stelsels Wet (Wet 32 van 2000), en die implementering van die tariewe.
In 2021 het AfriForum se Oudtshoorn-tak ’n saak in die Hooggeregshof op 6 Oktober 2021 gewen, teen die ou riooltariewe. Die munisipaliteit het egter appél aangeteken en is in die proses om die saak ter syde te laat stel. Die saak was op 18 Oktober 2023 aangehoor in Kaapstad. AfriForum het die saak teen gestaan.

Intussen is AfriForum reeds volstoom aan die werk om die nuwe tariewe teen te staan en het hul ’n bepaalde tydperk gekry waarin hul alle nodige dokumentasie bymekaar moet kry en indien, om die bal aan die rol te sit.

Die meeste sosiale mediaplasings en kommentaar was egter dat inwoners nie geweet het van die skokke wat op die die dorp wag nie. Daar was wel verskeie kere waar inwoners volgens wet insig in die begroting voor dit finaal goedgekeur word dmv die publieke deelname proses kon deelneem. Hier volg die werking van die begrotingsproses.

Die begrotingsproses begin met die Geïntegreerde Ontwikkelingsplan (GOP). Daar word jaarliks in September GOP vergaderings in elke wyk of wyke gehou. September 2022 se vergaderingdatums is op 18 Augustus 2022 gepubliseer. Hierdie vergaderings word deur min mense bygewoon. Die GOP is die basis waarop die kapitaalbegroting gebaseer word.

Die finale GOP-plan word dan in April gedurende die burgemeester se Imbizos oor die konsep GOP en begroting voorgehou.

Die kennisgewing vir die datums is op 30 Maart 2023 gepubliseer. Dit is op hierdie vergadering waar die publiek ingelig word oor wat die begroting vir die volgende finansiële jaar gaan wees. Na afloop van hierdie vergaderings het die publiek tyd om skriftelik kapsie te maak teen die begroting wat dan in die finale begroting vervat word.

Die publiek se terugvoer moet oorweeg word voor die finale begroting goedgekeur word. Dus word die beplande vergaderings ’n maand voor dit plaasvind gepubliseer in koerante, op die munisipaliteit se webwerf sowel as op hulle Facebook-blad, en inwoners word genooi en aangemoedig om hierdie vergaderings by te woon. Daar word ook na die goedkeuring gedoen is sowat 30 dae aan die publiek gegee om enige skriftelike kapsies in te dien.

Die konsepbegroting en GOP-plan word daarna ook op die munisipale webwerf gepu-bliseer.
Die Munisipale finansiële bestuurswet se omsendskrywe nr 98 en die Munisipale Stelselswet Artikel 74 (2) stel dit duidelik en het bepaalde voorskrifte as dit kom by die berekening van tariewe soos bv. die vullisverwyderingtarief. Die tarief moet die totale koste wat dit die munisipaliteit kos om die vullis te verwyder en vullisterrein te bedryf dek. Die tarief moet ook salarisse, voertuigkoste, kapitaalkoste ens. insluit.

Volgens Arno Greyling gaan die skuld op die swak bywoning van die vergaderings op Oudtshoorn se inwoners gepak word. “Inwoners het ongelukkig hul vertroue in die prosesse verloor want dit word eenvoudig van die tafel afgevee en geminag, en is dit een van die redes waarom die bywoning swak is. Ons wil egter die mense saamsnoer en met hulle praat en die gemeenskaplike belange kan dien, ons is almal deel van die dorp, en ons is die dorp.” het hy afgesluit.